Liewe naskool-ouer,

U kind is ons eerste prioriteit en sy/haar geluk lê ons na aan die hart. Ons streef daarna om u kind tuis te laat voel en in ’n huislike en liefdevolle omgewing te omvou. Ouers se geluk en tevredenheid is vir ons ’n hoë prioriteit en daarom is ek enige tyd beskikbaar vir enige navrae, probleme, voorstelle of net om te gesels. Ons is vir elke kind die huis weg van die huis.

 

  • Ons verdeel die kinders in drie groepe om die etes meer vlot te laat verloop.
  • Elke groep volg sy eie dagprogram/dagverloop.
  • Daar is ’n drieweeklikse, gesonde spyskaart wat verseker dat die kinders nie te veel van ’n sekere dis eet nie.
  • Die peuters en kleuters slaap op ’n matras en het ’n kombersie in die wintermaande om ’n snoesige slapenstyd te verseker.
  • Die verrykingswerk van die grade-kinders word gedoen in graadverband om toe te sien dat daar genoeg een-tot-een-aandag gegee kan word.
  • Ongeveer 15:45 kry elke maatjie ’n vrug/koekie of een of ander versnapering om die middag op te kikker.
  • Verder bied ons interessante vakansieprogramme aan vir die onderskeie groepe vir vol ingeskrewe kinders, maar dagbesoekers is ook welkom.

 

Ouers moet asseblief laat weet as ’n kind by ’n maatjie gaan speel, deur ouers vroeg afgehaal gaan word of nie die naskool gaan bywoon nie.

Sien ons inskrywingsvorm vir meer inligting. 

Grondslagfase

 

By Laerskool Die Krans kry elke kind (leerder) ’n regverdige kans om by die skoolhek uit te stap as ’n gebalanseerde, gelukkige kind met selfvertroue. Hier is ons nie bang om te waag nie, want ons glo waagmoed maak ons slim. Ons leef hier by ons plaasskool in die stad in ’n ontdekkingswêreld waar almal se belangstellings uitgeleef word. Woorde wat tel is: “Ek kan dit doen;” “Ek gebruik elke geleentheid;” “‘Ons’ is ’n goeie gevoel;” “Ek word aanvaar;” en “Ek is ’n gelukkige kaalvoetkind.”

Intersenfase

 

Die fase van ons skool waar elke kind homself kan wees. Ons streef daarna om ’n omgeeskool te wees waar elke kind as ’n unieke persoon erken word. Hier kan ons saam werk, lag en droom.

Ons belangrikste opvoedkundige doel is dat ons leerders al die lewensvaardighede moet verkry wat hulle nodig het om te floreer in die hoërskoolfase. Kom begin as ’n Kransbokkie gekoester, word gevorm, wees skoolgereed, en word dan ’n volwaardige Kransbok wat onafhanklik en toekomsgerig hoër hoogtes sal bereik. 

Leef jouself uit deur ’n gebalanseerde heelbrein-ontwikkeling op akademiese, Christelike, sport- en kultuurgebied. 

Met hoogs bekwame onderwysers sal elke leerder se hart met liefde en leergierigheid gevul word vir ons skool en ons medemens. Hier kry jy die geleentheid om die beste weergawe van jouself te wees. Word deel van die Bok-familie – ons huislike atmosfeer se deure staan oop. 

Voed die dors na kennis, evalueer minder, waardeer meer.

Leer om mekaar te respekteer.

Ons bied uitnemende kwaliteit opvoeding met ’n uitgesproke Christelike karakter sodat elke kind vanuit ’n gelukkige, huislike atmosfeer ’n sterk gesonde selfbeeld as fondament ontwikkel waarop ’n lewe van geloof, hoop en liefde gebou kan word.

Skool Ure

Ons model is gerig op die optimale ontwikkeling van kinders se selfbeeld en positiewe dissipline. Daarvoor word hulle in ‘n vennootskap met hulle ouers op ‘n unieke en gepaste wyse in hulle vormingsjare hanteer. 

Ouer Nuusbrief

©2022 Laerskool Die Krans En Kransjakkers. Made with love Blackdog Design Agency